Friday, March 27, 2009

ASPETAT SE ROGAN JOSH


Dis herfs. Elke dag lyk die berge anders. Die groen word stadig omvorm in ‘n ontploffing van bruin, rooi, pers en geel kleure met kombinasies wat nêrens anders in die wêreld dieselfde is nie.  Die populiere en die treurwilge word geel. Dis hierdie kleure en temperature wat dan my Appelliefie, dis nou Aspetat te veeleisende wederhelf, smaak kliere begin prikkel en sy vra vir kerrie! Nou nie basaar kerrie nie. Dit kan ‘n mens op Paasnaweek by die vlooimark op die plein by die kerk se tent gaan koop. Nee,  ‘n mens soek Indiese kos. Met Naan brood of Roti. Met Basmati rys.

 

Die meeste mense skrik vir hierdie kerrie ding. Hulle is bang vir brand. Dis nie nodig nie. In Indië is daar nie so ‘n ding soos kerrie nie. Die woord is eintlik Engels van oorsprong en gebaseer op die Tamil woord “kari”, wat swart peper beteken. Dit is ‘n term wat vele soorte Indiese kosse beskryf, veral dié wat in sous gekook word. Disse in Indië word eerder vernoem na die kombinasie van speserye wat gebruik word (“rogan josh”), of na die metode van voorbereiding (“koma”, “briyani”, “do piazza”) of na die hoof bestanddele (“saag”, “aloo gobi”). Kerrie poeier bestaan nie. Die naaste daaraan is miskien masala, wat maar net ‘n naam is vir enige mengsel speserye. Party disse bevat baie chillies en kan jou bek brand. Die meeste het niks in wat brand nie.

 

Hierdie resep kan met beesvleis, hoender of vis gebruik word. Dis ‘n maklike manier om te begin in die wonderwêreld van Indiese kookkuns.

 Bestanddele:

 

800 g rump steak

4 medium grote uie

8 tamaties

1 eetlepel mosterd saad

1 eetlepel sesame saad

2 teelepels borrie

2 teelepels paprika

3 eetlepels garam masala

1 gekapte chili (as jy soos ons van warm goed hou sit meer by)

4 huisies fyngekapte knoffel

2 eetlepels sonneblomolie

1 blikkie kokosneut  melk

‘n Hand vol vars koljander blare

 

 

Metode:

 

1.                  Maak die uie fyn in die voedselverwerker, of rasper dit, en sit eenkant.

2.                  Verwyder die tamaties se skille daardeur eers in kookwater vir ‘n paar minute en daarna in yswater te sit. Maak die tamaties fyn in die voedselverwerker, of rasper dit, en sit eenkant.

3.                  Verhit die sonneblom olie in n lekker diep braaipan. Moenie olyfolie gebruik nie. Die sonneblomolie word warmer en bring die geure van die speserye beter na vore.

4.                  Sny die vleis in blokkies, maak dit bruin in die olie en sit eenkant.

5.                  Braai eers al die sade in die olie net vir so ‘n minuut.

6.                  Voeg die garam masala en borrie by en roer vir nog ‘n minuut.

7.                  Voeg die uie, knoffel en chilies by en roer die speserye deur.

8.                  Voeg die tamaties by en roer deur. Maak die pot toe en verminder die temperatuur. Laat dit nou rustig vir so 30 minute prut. Ek proe maar so elke 10 minute. In ’n stadium kom al die geure bymekaar en sê sie kerrie hy is nou reg vir die vleis.

9.                  Voeg die vleis by en laat nog prut tot sag.

10.             Voeg die kokosmelk en die koljander blare by en roer deur. laat staan vir nog 5 minute en bedien saam met Basmati rys en Naan brood.



No comments:

Post a Comment